Uit my Kuierkombuis

Ons het twee weke gelede begin gesels oor eiers. ‘n Goedkoop proteïen wat in vele geregte gebruik word,  maar wat ook net so genuttig kan word.

Eiers is ‘n byna volledige bron van voeding, ryk aan proteïene en yster; hulle verskaf ook vitamiene A, D, E, K, en B-kompleks. Die eierwit is hoog in proteïen en vetvry. In die verlede was eiers ongesond weens hul cholesterol gehalte. Maar vandag is voedingkundiges dit eens dat die cholesterol in eiers die “goeie” soort is.

‘N Enkele groot eier bevat:

  • Kalorieë: 75
  • Cholesterol: 215 mg, alles van die eiergeel
  • Proteïen: 6 g

Verlede week kondig my wederhelfte aan dat  hy dié oggend vir ons ontbyt gaan maak!

Die nodige smeermiddel is in die pan geplaas,  mooi rooi tamaties is gesny en liggies gebraai met geurmiddels…… sout en varsgemaalde peper en ‘n bietjie Knoffel en speserye-mengsel.  Daarna word 6 eiers geklits,  liggies gegeur met sout en peper en oor die gebraaide tamatieskywe gegooi.  Die deksel is opgesit en oor lae hitte is die gereg gaargemaak vir sowat 3 – 4 minute.

Die gereg is in kwarte gesny en bedien op ‘n roosterbroodjie,  afgerond met gerasperde cheddarkaas!  Heerlik en geurig!