Uit my Kuierkombuis

Na ‘n baie bedrywige dag,  besluit ek om ‘n gereg te maak met relatief min bestanddele,  maar eintlik met bestanddele wat ek in die koskas het. Gedurende Desember was daar ‘n spesiale aanbieding vir 5 blikkies tuna wat ek dadelik in die kruideniers waentjie gepak het. Die blikkies tuna het al baie handig te pas gekom vir vinnige tuna en mayonnaise roosterbroodjies,  tuna slaai ensomeer. 

Vir ‘n ligte middag of aandete is die volgende resep vir tunatert ideal!

Geurige tunatert

2 eiers effens geklits

5 ml worcestersous

1 blik (170g) tuna in soutwater, gedreineer

1 middelslag ui fyn gekap

45 ml koekmeelblom

5 ml bakpoeier

Knippie sout

wit peper na smaak

250 ml gerasperde cheddarkaas ( hou bietjie van die gerasperde kaas om bo-oor die pastei te strooi)

250 ml melk

Garnering:  paprika

                     Varsgekapte pietersielie

Metode:

  1.  Voorverhit die oond tot 180 ̊C en smeer of bespuit met kleefwerende middel,  ‘n 20cm deursnee pasteibak/tertbord.
  2. Klits die eiers net liggies deur en plaas daarna al die bestanddele in ‘n mengbak. (Onthou om 1/3e koppie (80ml)   van die kaas eenkant te hou om bo-oor die pastei te strooi.
  3. Meng die bestanddele liggies deur tot goed gemeng en skep in voorbereide tertbord. Strooi die res van die gerasperde kaas oor.
  4. Garneer die tunatert met ‘n ligte strooisel paprika.
  5. Bak vir 25 minute in voorverhitte oond tot goudbruin.
  6. Net voor opdiening,  snipper vars pietersielie oor die tert.
  7. Bedien as ligte maaltyd saam met ‘n slaai en vir ‘n meer formele maaltyd,  kan rys en groente daarmee saam voorgesit word.

Soos in die foto kan u sien dat ‘n tamatieslaai kleur en geur aan die bord gee saam met ‘n porsie tunatert!  Geniet dit!