Uit my Kuierkombuis

Ek het verlede week verwys na eiers as ‘n redelike goedkoop proteïen en met die skole wat weer begin,  kyk ons uit vir oulike voorstelle ook vir die kosblikke.

As kind het ons nogal Sondagaande gekookte eiers saam met ‘n snytjie roosterbrood geëet en as afgetredene,  kom ‘n gekookte eier heel handig te pas vir ontbyt, middag of aandete.  Dit is vinnig Wat is padkos sonder gekookte eiers?!

Hoe gaar verkies jy jou gekookte eiers?

Indien jy nie ‘n elektriese eierkoker het nie,  plaas jy die hoeveelheid eiers wat jy wil kook in koue water in ‘n kastrol en bring dit tot kookpunt.  Daarna is ‘n basiese riglyn,  die volgende:

4 minute na kookpunt – baie sagte loperige eiergeel en gedeeltelik ook eierwit

5 minute na kookpunt – loperige eiergeel, minder loperige eierwit

6 minute na kookpunt – loperige eiergeel, gestolde eierwit

7 minute na kookpunt – gestolde eiergeel en eierwit.

Wenk:  Veral wanneer ons eiers kook wat gehalveer moet word vir ‘n soutbord,  gebruik ‘n metaallepel en draai die eiers gedurig gedurende die kookproses sodat die eiergeel so veel as moontlik in die middel van die eierwit stol.

Hoe weet ons of eiers nog bruikbaar is?

Die eenvoudigste manier om te toets vir eier varsheid is om dit in ‘n houer water te dompel.

  • ‘n Baie vars eier lê plat op die bodem.
  • ‘n Eier wat omtrent ‘n week oud is, sal effens “lewendig” wees, dus sal dit net ‘n bietjie uit die onderkant van die water opstaan.
  • Teen drie weke oud sal ‘n eier regop in die water staan.

Die rede waarom hierdie toets werk, is dat elke eier ‘n dun membraan het wat ‘n klein lugsak vorm. Soos die eier verouder, brei die lugsak uit, en soos dit vergroot word, word die eier meer “lewendig”.

Hierdie toets is nuttig wanneer jy hard gekookte eiers maak , want wanneer die lugsak uitbrei, maak dit die eier makliker om te skil. Dus sal die beste eiers vir hard gekookte eiers verkieslik ‘n week oud moet wees.

‘n Slegte/baie ou eier, sal dadelik bo dryf ……….

Geniet ‘n gekookte eier of twee saam met tuisgebakte brood wat gerooster is!  Baie lekker!