Sentraal Afrika Republiek verklaar noodtoestand

Die regering van die Sentraal Afrika Republiek het ʼn 15 dae noodtoestand afgekondig nadat rebelle gepoog het om die land se hoofstad af te blokkeer.

Die land se verteenwoordiger by die Verenigde Nasies het ʼn pleidooi gelewer vir hulp om die verkose regering by te staan teen die rebellemagte.

Die rebelle het glo probeer om die hoofstad Bangui af te sny van die res van die land deur die paaie te blokkeer, maar hulle eerste probeerslag het misluk, en die regering is bekommerd dat ʼn tweede poging mag slaag as VN hulp nie beskikbaar is nie.

Die amptelike woordvoerder van die president, ene Albert Yaloke Mokpeme het tydens ʼn radio onderhoud gesê die noodtoestand stel die owerheid in staat om arrestasies te doen sonder om deur die normale prosedures te gaan.

Rebellemagte het reeds aan die einde van Desember hul gewapende vegters opdrag gegee om met aanvalle op mense in die hoofstad te begin.

Rebellemagte het ontstaan nadat slegs een derde van die land se kiesers deelgeneem het aan die verkiesing, wat menige laat glo dat die regering nie ʼn meerderheidsregering is nie.