SA sal geld vir entstof kry

Die ANC president, Cyril Ramaphosa, het gesê Suid-Afrika sal wel geld bekom om entstof te koop, maar het nie geld om verder verligting te bring vir mense wat swaarkry nie.

Hy sê SA het nie geld om soos in die eerste pandemie, ondersteuning te gee aan mense wat swaar kry nie, maar sal wel geld vind om entstof te koop.

Ramaphosa het die opmerkings gemaak in ʼn radio program van Radio 702 wat verlede Vrydag uitgesaai is.

Hy het voorheen in ʼn TV toespraak gesê dat voldoende entstof gekoop sal word om 40 miljoen mense ingeënt te kry voor die einde van Desember 2021.

Ingeligte bronne wys daarop dat dit beteken die president gaan 80 miljoen dosisse entstof bekom gedurende die jaar om die 40 miljoen mense te immuniseer.

Kenners beskou die president se belofte as uiters vergesog, veral in die lig van die swak infrastruktuur en min opgeleide werkers wat die entstof met die nodige verantwoordelikheid sal hanteer.

Die land sukkel tans om mense in hospitale verpleeg te kry weens ʼn groot tekort aan gesondheidswerkers, en waar die werkers vandaan gehaal gaan word om die inenting veldtog te beman, bly onbeantwoord.