Motor rubriek – Volkswagen Beetle

Een van die gewildste voertuie op die land se paaie was die Volkswagen Beetle van die vroegste jare. Selfs vandag is dit nog gewild en is dit beskikbaar as ‘n versamelaarsitem. Die opvolg Beetle van die jare 2014 byvoorbeeld was minder gewild maar het nogtans ‘n groot hoeveelheid aanhangers gehad. As tweedehandse motor is dit nog steeds baie gewild en daar is goeie motors in die mark beskikbaar.

Die geronde bakwerk vorm, met ‘n ingeboude drukvlerk aan die agterkant verseker dat die padhouvermoë van hoogstaande gehalte is want die sleurkoëffisiënt is baie laag. Wat die padhouvermoë nog verder verbeter is die feit dat dit breed van bou is en naby aan die padoppervlakte hurk.

‘n Verdere voordeel daaraan verbonde dat dit so breed gebou is, is dat binne ruimte is meer as genoeg en daar kan met gemak in en uitgeklim word. Die algemene binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en dit is sportief. Wat dit veral gerieflik maak is die onderkant van die stuurwiel wat ‘n plat afwerking het sodat daar met gemak ingeklim kan word. Die sitplekke is van so ‘n aard dat dit eintlik baie gerieflik is en die bestuurder se gerief is ook nie agterweë gelaat nie. Die instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en is maklik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel. Die aanraakskerm is binne maklike bereikbare afstand en in die onmiddelike omgewing daarvan is beheer skakelaars vir ander toerusting. Van hierdie toerusting sluit in ‘n lugversorger, radio, houers vir vloeistofhouers, ensovoorts. Die ratkieshefboom van die ses spoed handratkas pas gerieflik in die handpalm van die linkerhand. Rat kiesing vind, getrou aan Volkswagen, seepglad plaas.

Die ratkas vorm deel van die kragbron en die 1390 kub sentimeter, vier silinder kragbron met turbo en drukaanjaer stelsel sorg dat daar 118kW krag by 5800 o.p.m. en 240Nm wringkrag tussen 1500 o.p.m. en 4500 o.p.m., beskikbaar is. Vier kleppe per silinder sorg vir die “asemhaling” gedeelte en die krag en wringkrag beskikbaar stel die Beetle instaat om van 0 tot 100km/u te versnel in 8,3 sekondes. Die topsnelheid is 208km/u en ingeligte bronne noem dat die brandstofverbruik 7,6l/100km is terwyl die brandstofhouer 55 liter brandstof neem.

Vir die agterste passasiers is die plek wel so effe beknop maar kinders kan met gemak daar in pas. Die agterste sitplek is kom-sitplekke en dit verhoog die sportiewe afwerking. Die agterste sitplek se leuning vou plat en wanneer dit gedoen is verhoog die bagasieruimte van 310 liter na 950 liter. Weens die skuinsafwerking van die bagasieruimte deksel word die ruimte beperk maar soos reeds genoem kan die ruimte aansienlik en maklik vermeerder word.

Die veiligheid van die Beetle en sy insittendes is nie agterweë gelaat nie en binne in die voertuig is daar lugsakke aangebring en ‘n ABS remstelsel sorg dat die motor met gemak en veiligheid tot stilstand gebring kan word.

Van voor gesien, vorm dit as geheel ‘n indrukwekkende prentjie. Die hoofligte is deel van die voorste modderskerms en die Volkswagen embleem is in die middel van die enjinkap gemonteer en daar kan dus geen twyfel bestaan uit watter febriek die Beetle kom nie. Die kolligte wat aan die buitekant van die sierrooster gemonteer is, vorm ‘n integrale deel met die luginlaat.

Van die kant gesien is daar ‘n ooreenstemmende ooreenkoms van die geboë modderskerms met van die oorspronklike Beetle’s. Allooi wielnawe rond die sykant prentjie netjies af en die deur handvatsels en die sykant spiëels is dieselfde kleur as die van die bakwerk.

Aan die agterkant is die agterligte om die hoek van die bakwerk ingebou en kan die agterkant van die voertuig duidelik gesien word wanneer die voertuig van die kant genader word. Soos reeds genoem is daar ‘n ingeboude drukvlerk wat hulp verleen met die padhouvermoë en die Volkswagen embleem op die agterste kap tesame met ‘n remlig wat hoog gemonteer is, sorg dat die motor duidelik sigbaar is.

Hierdie is ‘n motor vir die dorp/stad sowel as die langpad en wanneer so ‘n voertuig aangekoop word van ‘n Volkswagen handelaar, is die normale waarborg van toepassing en kan die voertuig as ‘n eerste voertuig of selfs as ‘n tweede voertuig oorweeg word.