Motor rubriek – Toyota Hilux 2,8 GD-6 4×4 Legend RS AT

Wanneer daar na die naam beskrywing gekyk word van die heel nuutste Hilux, dan besef jy dat dit ‘n besonderse voertuig moet wees wat dit dan ook inderdaad is.

Die opkikkering van die voertuig het oor ‘n wye gebied plaasgevind en dit kan dadelik opgemerk word veral die verandering wat daar aan die voorste, neus gedeelte gedoen is. Die neus oorhang is met 10mm verleng en dit is 45mm breër. Deel daarvan is die verandering wat plaasgevind het betreffende die hoofligte, die sierrooster met die bekende Toyota embleem tussen twee chroomstroke, die kolligte aan die buitekant van die voorste buffer, ‘n groter beskermings plaat aan die onderkant, die plastiek beskerming wat in die wielboë aangebring is, die “Legend black” mat swart afwerking van die sykant spieëls, 18duim allooi wielnawe geskoei met Dunlop Grandtrek 265/60 R18 sorg dat die Hilux op die pad bly en die aantreklike agterligte wat aan die agterkant gepas is.

Die laaibak gedeelte is onveranderd maar ‘n sluitbare, toetrek deksel verseker dat gelaaide goedere bestand is teen die oë van kwaaddoeners. Die bak is binne-in afgewerk met ‘n rubber laag en dit kan redelike rowwe materiaal hanteer sonder dat die bak beskadig word. Die bak kan 810 liter goedere neem en dit maak hierdie bakkie ‘n ideale, meerdoelige voertuig. Dit ewe tuis in die hande van die boeredery gemeenskap, ‘n kontrakteur en in die hande van ‘n gesin.

Siende dat dit ‘n vier deur, dubbel kajuit voertuig is, kan dit met gemak die aankoop van ‘n sedan motor vervang. Vir die gerief van kinders, die van ons met kort bene, dames en ouer mense is daar ‘n sy-trap aangebring waarop getrap kan word om in te klim. Die ingenieurs van Toyota het seker gemaak dat daar aan almal se gerief gedink word. So byvoorbeeld kan die bestuurder se sitplek elektries verstel word, die vensters kan elektries oop en toegemaak word, parkeer hulp maak deel uit van die pakket, ‘n lugversorger verseker dat die langpad met gerief aangepak kan word, die bekleedsel van die sitplekke is kunsleer, die stuurwiel is verstelbaar en op die stuurwiel is daar skakelaars aangebring vir die beheer van die toerusting, ‘n Nege luidspreker JBL klankstelsel met bloutand en stembeheer sorg vir die vermaak deel en laaste maar nie die minste nie is daar parkeer hulle bywyse van ‘n kamera.

Die gerief van die bestuurder is nie agterweë gelaat nie en die maklik leesbare instrumente wat deur die boonste gedeelte van die stuurwiel gelees kan word is die toereteller aan die linkerkant, die snelheidsmeter aan die regterkant en tussen dit is daar ander kleiner instrumente gemonteer.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is die “hart” van die Toyota die betroubare, vier silinder, inlyn, direkte elektroniese brandstof inspuiting, turbo aangejaagde, met tussen koeler, diesel kragbron wat die werk verrig. Die kragbron is ook opgekikker. Die “asemhaling” vind plaas bywyse van dubbel oorhoofse nokaste met vier kleppe per silinder. Die krag beskikbaar tussen 3000 en 400 o.p.m. is 150 kW en die wringkrag is 500Nm tussen 1600 en 2800 o.p.m. Volgens die vervaardiger is die topsnelheid 175km/u en ingeligte bronne meld dat dit versnel van 0 tot 100km/u in 10,83 sekondes.

 ‘n Ses spoed outomaties ratkas waarvan die rat kies hefboom in die middel konsole gepas is, doen die krag oorbrenging d.m.v. ‘n ESC hulp stelsel na al vier wiele soos nodig. Die oorskakeling geskied seepglad. In die middel konsole tussen die voorste sitplekke is daar pak plek vir kleinere goedere. Tussen die ratkies hefboom en die instrumentpaneel is daar plek vir twee vloeistofhouers en die groot aanraakskerm vorm deel van die instrumentpaneel met ander beheer skakelaars binne maklike reikafsand van die voorste insittendes.

‘n ABS remstelsel met EBD en EBA hulp, sorg dat die bakkie met veiligheid tot stilstand gebring kan word. Op die voorwiele is daar 319mm geventileerde skywe gepas met 295mm trommels op die agterwiele. Deel van die veiligheidstelsel in die Toyota is die lugsakke wat in die kajuit gemonteer is met die gewone veiligheidsgordels in plek.

Padgedrag is gelykstaande aan die van ‘n sedan motor want daar word gebruik gemaak van ‘n onafhanklike, dubbel wensbeen stelsel met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorwiele en ‘n lewendige agteras met bladvere op die agterste veerstelsel.

 Hierdie is die ideale sleepvoertuig want die gewig daarvan is 2205kg en dit kan ‘n woonwa/sleepwa sonder eie remme van 750kg sleep. Soos in die verlede het Toyota hier ‘n wenner beet en indien u in die mark is vir ‘n bakkie, kan u dit gerus op u aankopelys plaas en dit vir ‘n toetsrit gaan neem by u naaste Toyota handelaar.