Motor rubriek – Renault Sandero Turbo Stepway Techroad MT

Die Renault Sandero in sy huidige bouform is ‘n baie gewilde motor. Dit skep die indruk van ‘n sportnuts voertuig maar is eintlik in ‘n vlak van sy eie.

Dit is gerieflike motor en wanneer in die motor ingeklim word, trek die hoë standaard van afwerking, dadelik ‘n mens se aandag. Al die toerusting pas netjies en die sitplekke wat met leer oorgetrek is, sorg vir ‘n gemaklike sitposisie. Die bestuurder se sitplek kan meganies verstel word en selfs op sy verste posisie terug geskuif, is daar baie sitplek vir die agterste pasasiers. Daar is beenspasie van ongeveer 630mm beskikbaar.

Die stuurwiel wat gebruik word is verstelbaar vir reikafstand, dit is afgewerk met geborselde alluminium en met ‘n lugsak in die middelste gedeelte gemonteer. Verskeie skakelaars is op die stuurwiel gemonteer vir beheer van die toerusting en analoog instrumente wat bestaan uit ‘n toereteller aan die linkerkant en die snelheidsmeter in die middel, skep ‘n baie gunstige indruk. In die instrumente, is kleiner instrumente gemonteer en aan weerskante van die stuurwiel is daar skakelaars aangebring vir beheer van die windskerm veërs en die flikkerligte. Snelheidsbeheer verseker dat daar binne die neergelegde snelheidsperke gebly word en wanneer nodig, kan die vensters d.m.v. die elektries beheerde stelsel oopgemaak word.

Aan die bokant van die aanraakskerm , aan weerskante is die luguitlate van die meganies verstelbare lugversorger en tussen die aanraakskerm en die rat kies hefboom is daar verskeie ander skakelaars aangebring vir beheer van toerusting. ‘n Radio met MP3 beheer en Bloutand sorg vir die vermaak wanneer die langpad aangepak word. Op die pad is padgedrag van ‘n hoë standaard en selfs op ruwe pad oppervlakte, is die padgedrag goed.

Die ratkies hefboom wat in die middel konsole gemonteer is, bedien ‘n vyfspoed, standaard ratkas en die rat skakeling geskied glad en daar is nie ‘n   probleem om die rat van jou keuse te kies nie. Die ratkas is aan ‘n drie silinder, dwars gemonteerde, 898 kub. sentimeter, turbo aangejaagde kragbron met tussen verkoeler, petrol enjin, met elektroniese brandstofinspuiting gekoppel en dit dryf die voorwiele aan. Die krag uitset is 66 kW tussen 5250 en 6000 o.p.m. en die wringkrag is 135 Nm teen 2500 o.p.m. Volgens ingeligte bronne stel dit die Renault instaat om van 0 tot 100km/u te versnel in 14,68 sekondes met ‘n topsnelheid van 168km/u terwyl die brandstofverbruik volgens die vervaardiger, 5,4l/100km is. ‘n Dubbel oorhoofse nokas, met vier kleppe per silinder sorg dat brandstof in die ontbrandingskamers kom en die uitlaatgasse die enjin kan verlaat.

Buite afwerking, soos binne is ook van ‘n hoogstaande gehalte. Die bakpanele pas goed en die Romeniërs wat dit gebou het in Romenië, het deeglike werk verrig. Al vier deure maak wyd oop en daar kan met gemak ingeklim word. In die wielboë en reg rondom die voertuig is daar plastiek beskerming aangebring om die bakwerk te beskerm teen moontlike beskadiging deur los materiaal op die pad.

Van voor gesien laat die Renault embleem in die middel van die sierrooster geen twyfel oor die fabrikaat van die voertuig nie en wanneer die enjinkap oopgemaak word, is al die toerusting netjies in plek gemonteer. Onder die hoofligte is daar kolligte gemonteer om die beligting in die nag te verbeter en onder die onderste luginlaat is daar beskerming aangebring met silwer mat-afwerking.

Deur die speke van die vier allooi wielnawe kan die soliede skywe van die voorste skyfremme opgemerk word en deur die speke van die agterwiele kan die remtrommels opgemerk word. ‘n ABS remstelsel met EBD en EBA hulp sorg dat die Sandero met veiligheid tot stilstand kan kom. Die allooi wielnawe is geskoei met 205/55 R16, Continental ContiContact 5 bande en ‘n vol grootte, metaal, wielnaaf word gebruik vir die noodwiel.

Op die dak is daar reëlings gemonteer waar bagasie aan kan vasgeheg word en wanneer die agterste klap deksel met sy ingeboude drukvlerk oopgemaak word, is daar ‘n bagasieruimte wat 264 liter bagasie kan neem. Wanneer die agterste sitplek se leuning wat in ‘n verhouding 60:40 verdeel platgevou word, vermeerder die ruimte na 1000liter.

Die agterligte wat deel vorm van die agterste modderskerms en buffer, is duidelik waarneembaar en waar die uitlaatpyp uitkom, is daar ook beskerming aangebring met silwer mat-afwerking.

Hierdie is “mossie maar man” en vir ‘n eerste aankoop voertuig of vir ‘n tweede voertuig vir moeder om die kinders mee te vervoer, is dit ideaal. Lae brandstofverbruik maak dit ‘n goedkoop voertuig en sou u dit nodig ag om ‘n motor van hierdie formaat aan te skaf, kan u dit gerus vir ‘n toetsrit neem.