Kaapstad maak gereed vir sonder Eskom

Kaapstad se burgemeester Dan Plato het Eskom en die nasionale regering gekritiseer oor die afgelope tyd se beurtkrag wat Suid-Afrika onverhoeds gevang het met die skielike toepassing daarvan deur die kragvoorsiener.

Plato sê die kragonderbrekings was “absoluut ontwrigtend” te midde van die ekonomiese krisis waarin die land hom bevind.

Hy wys daarop dat in Oktober 2020 is ʼn wysiging van regulasies oor krag verskaffing deur die regering ingestel wat meebring dat private instansies en munisipaliteite hulle eie kragopwekking mag doen onder sekere voorwaardes.

Die burgemeester doen derhalwe ʼn beroep op die regering om die proses te verhaas sodat Eskom ook verligting kan kry as groot stede soos Kaapstad gereed is om eie opwekking van elektrisiteit te hanteer.

Hy sê Kaapstad is besig om gereed te maak om saam met ander munisipaliteite hulle eie, skoon en omgewingsvriendelike elektrisiteit op te wek en vra die regering om nou die saak af te handel sodat plaaslike owerhede kan begin om eie krag op te wek.