Hospitale was gewaarsku van tweede pandemie

Die regering en die hospitale van Suid-Afrika was reeds in September gewaarsku dat ʼn tweede pandemie op pad is en dat die hospitale hulleself moet gereedmaak vir die aanslag wat kom.

Volgens opnames  wat gemaak is, het geen hospitaal ag geslaan op die waarskuwende woorde van kenners nie, behalwe die hospitale van die Wes-Kaap wat sy gereedheid opgeskerp het.

Waarnemers wys daarop dat die opnames wat gemaak is, wys op die onvoorbereidheid van hospitale en hulle personeel, wat meebring dat die toestroming van pasiënte ook tot gevolg het dat volledige aandag nie aan almal gegee kan word nie.

Berigte is ontvang van hospitale wat so oorvol is dat die lyke van oorledenes opmekaar gepak word omdat die ondernemers nie die toestand te wagte was nie en self ook nie gereed is nie.

In verskeie staatshospitale is daar ʼn ernstige gebrek aan higiëne, en kenners reken dit dra by tot die hoër sterftes van mense met infeksie, en dat die onvoorbereidheid om na alles om te sien terwyl die hospitale hulle maksimum pasiënte kapasiteit nader, die erns van die saak bevestig.