Eskom sabotasie

Oor die afgelope dekade het Suid-Afrika telkens die gevoel gekry dat Eskom nie net die regering gyselaar hou nie, maar ook besig is met ʼn berekende sabotasie terwyl sekere persone die daad van korrupsie voortgesit het.

Die afgelope week het die land weer beleef wat so onaanvaarbaar is: Eskom is besig met beurtkrag wat die land en sy mense miljoene Rand per dag uit die sak jaag.

Deskundige berekenings wat pas vrygestel is wys dat Eskom die land elke dag wanneer daar beurtkrag toegepas word, tot R900 miljoen kos, iets wat nou allermins bekostig kan word.

Die ideaal sou wees dat deskundiges van buite die Eskom raamwerk die herstel en instandhouding behartig, maar as jy bankrot is dat gaan jy te werk soos een wat bankrot is – jy maak staat op diegene wat jou die minste gaan kos op die korte duur…

Suid-Afrika se nyweraars, Mynhuise, landbouers, sakemanne en ander kundiges doen hulle bes om die land ekonomies te red van totale ineenstorting, maar Eskom kelder dit alles deur R900 miljoen per dag met beurtkrag te verkwis.

Is hierdie regering werklik so stompsinnig op ekonomiese gebied dat hulle nie die werklikheid raaksien nie. Hoeveel keer gaan Eskom nog optree as die breker wat alles wat opgebou is oor byna 400 jaar, binne ʼn paar maande af te takel tot niks oor is nie?