Eskom kan weer beurtkrag begin

Soos in die verlede, kan Eskom weer beurtkrag instel weens die swaar reen wat oor ʼn wye gebied uitgesak het en sy steenkool voorraad so benat het dat dit produksie nadelig beïnvloed.

Alhoewel die nat weersomstandighede ʼn aansienlike daling in die temperatuur veroorsaak het, en dit die aanvraag na elektrisiteit verlaag het, is die kanse glo goed dat Eskom nie in die aanvraag sal kan voorsien nie.

Die vooruitsigte van nog meer reën wat kan voortduur tot volgende Maandag, verhoog die kanse van beurtkrag, en behoort verbruikers hulle gered te maak vir die onwelkome onderbrekings.

Onlangse navorsing het getoon dat beurtkrag wat in 24 uur toegepas word, tot R900 miljoen verlies vir die land beteken, iets wat beslis nie in die tyd van swak ekonomiese toestande bekostig kan word nie.

Eskom se kantoor in Wes-Transvaal het reeds gewaarsku dat “nat steenkool” kan lei tot vermindering in krag opwekking en beurtkrag ingestel sal word as dit nodig word.