Eskom kan entstof berging kelder

Ernstige kommer het ontstaan dat Eskom met sy onverwagse beurtkrag die berging van koronavirus entstof kan benadeel of selfs kelder.

Geneeskundiges en gesondheidswerkers sê die vinnige beurtkrag wat verlede week in die meeste gevalle gedurende die nagte plaasgevind het, skep rede tot kommer vir wanneer koronavirus entstof ontvang is en opgeberg moet word.

Verlede week het Eskom stil-stil beurtkrag ingestel nadat twee van sy kragstasies onklaar geraak het en nie hulle volle kapasiteit gelewer het nie.

Die moontlikheid dat Eskom weer ʼn Fase 2 beurtkrag kan instel, is nie vergesog nie, maar dit kan ernstige probleme veroorsaak vir die instansies wat die berging van die voorraad entstof moet bestuur.

Ingeligte bronne sê entstof kan slegs gestoor word in Suid-Afrika by punte waar bystand kragopwekkers van betroubare gehalte, te alle tye voldoende krag kan voorsien wanneer Eskom misluk.