Bosnië red immigrante in sneeustorm

Die regering van Bosnië was verplig om die afgelope naweek tot die redding van sowat 1,000 immigrante kom wat sonder herberg is.

Die immigrante se woonplekke in ʼn kamp wat spesiaal vir hulle ingerig is, is in ʼn brand vernietig en die regering het aanvanklik gemeen die vreemdelinge moet self sien om ander huisvesting te bekom. Van die sowat 3,000 het 1,000 geen heenkome gevind nie, en toe die naweek se sneeustorm die hawelose mense tot die uiterste beproef, het die regering blitsvinnig met behulp van weermag soldate, tente opgerig met verwarmingstelsels daarin toegerus.

Die regering het skerp kritiek gekry van binne sowel as van buite die land oor sy aanvanklike ongevoeligheid, maar het die beswaarmakers se monde gesnoer deur die verhitte tente en voldoende voedsel vir die mense te verskaf.

ʼn Woordvoerder van die regering het later gesê die groot tente bied voldoende ruimte en hitte om die immigrante te beskerm teen die erge koue weer wat die naweek ondervind is.