Beurtkrag vir volgende drie maande

Verbruikers moet hulle gereedmaak om in die volgende drie maande, of selfs langer, die ongerief van beurtkrag te trotseer, se ekonome en ingeligte deskundiges.

Eskom het gesê dat beurtkrag die week van krag sal bly en dat herstelwerk langer duur as wat aanvanklik beplan is.

Die beurtkrag wat die afgelope vier dae geduur het, kan te enige tyd verder toegepas word, aangesien die nywerhede en sakelui terug is van vakansie en nou volstoom begin werk.

Kenners wys daarop dat die kragverbruik nog nie sy piek bereik het nie, en kan met redelike sekerheid aanvaar word dat Eskom wat nou reeds ʼn onvermoë het om krag te lewer, nog in die komende maande meer gaan sukkel om betroubare diens te lewer.

Ingeligte bronne sê die herstelwerk by vier kragstasies die afgelope week, is net ʼn bewys van die swak instandhouding wat toegepas word, en onderhoud wat nie betyds gedoen word veroorsaak dat “onverwagse” breekskade tot instel van beurtkrag lei.

Suid-Afrika gaan ekonomies gebuk onder die las van korrupsie, koronavirus pandemie, en onbekwame mense in sleutel posisies, maar dit word vererger met Eskom wat die ekonomie verder saboteer.