Amerikaanse verdeeldheid

Dit was Donald Trump wat met sy kreet “Maak Amerika weer groot” wat die eerste verdeeldheid waargeneem is toe hy die Obama ooreenkomste die een na die ander omgekeer het om nuwe ooreenkomste te tref.

Daarmee het Trump as nuwe president nie veel sukses bereik nie, want die omstrede “Obama Care” mediese sorg plan was klaarblyklik goed genoeg, en die Trump regering kon nie daarop verbeter nie.

Die grens tussen die VSA en Meksiko het geëindig in ʼn kat-en-muis spelery tussen Republikeine en Demokrate, met laasgenoemde wat geld beskikbaar maak om troepe op die grens te hou in plaas daarvan om die Trump-muur te finansier.

Een na die ander saak is ter tafel geneem, en die kernwapen ooreenkoms van Obama met Iran het tot ʼn gevaarlike internasionale ontploffing gelei wat met Europese leiers se bemiddeling afgeweer is.

Dit en menige ander Trump beleidsrigtings het skerp teenkanting ontlok waarvan Sjina sekerlik die grootste kritikus is, maar ook gebuk gegaan het onder die doeltreffende maatreëls van die Trump administrasie om Sjina se uitbytery op finansiële en op sy spioenasie terreine in te perk.

Met die koms van Joe Biden word al hierdie aspekte omgekeer en word beleid koerse soos in die Obama era toegepas is, weer in werking geplaas.  Die ommekeer is duidelik waargeneem met Biden se eerste dag op kantoor waar hy sowat 17 dokumente onderteken het wat Trump se koers terugdraai na Obama se rigting van regeer.

Dit weerspieël die diepgaande verskil tussen die Republikeine en die Demokrate, en alhoewel Joe Biden ʼn beroep doen op Amerikaners tot eenheid, is die werklikheid dat daardie eenheid nie in sy tyd van bewind verkry gaan word nie, en die optrede van konserwatiewe Amerikaners wat Capitol beset het, is nie net ʼn simbool van verset nie, dit is ʼn simbool van diepgaande verskille met die liberaliste soos Biden en sy Demokrate.