Alexei in gevaarlike tronk

Die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, wat uit Duitsland met sy aankoms in Moskou gearresteer is, word in een van Rusland se gevaarlikste tronke aangehou.

Die optrede word beskou as nog ʼn poging om van Navalny as politieke opponent ontslae te raak en ingeligte verslaggewers reken dit is minstens ʼn poging om die leier so te intimedeer dat hy eerder die politieke weg gaan verlaat.

Alhoewel Navalny nie genoeg steun in Rusland het onder kiesers om president Poetin in ʼn verkiesing te oorwin nie, is sy sterk kritiek van waarde om sekere omstrede besluite van die Kremlin wêreldkundig te maak en Vladimir Poetin in ʼn swak lig te stel, iets waarvan die president nie hou nie.

Navalny word eers na 30 dae in aanhouding voor die hof gedaag, en die verwagting is dat hy die vonnis van 3 jaar gaan kry om te verseker dat hy nie aan die volgende presidentsverkiesing sal kan deelneem nie.