Aanspreeklikheid

Die huidige pandemie wat in Suid-Afrika woed en reeds duisende lewens opgeeis het, het in sy tweede fase van verwoesting die werklike feite na die oppervlakte gebring.

Van alles wat gesê kan word oor hoe die Covid-19 koronavirus pandemie die land en sy mense raak, is daar een belangrike aspek wat nie oorbeklemtoon kan word nie.

Dit is die vraag oor wie aanspreeklik is vir die sterftes sedert entstof bestel en gekoop kon word.

Met die bekendmaking van een na die ander entstof wat goedgekeur is deur verskeie lande, was die bestellings van tientalle lande reeds geplaas, en in baie gevalle is die betalings ook vooruit gemaak met die eis dat voorkeur aflewering verwag kan word – iets wat inderdaad ook gebeur het.

In die geval van Suid-Afrika, is minder as R300 miljoen se bestelling geplaas deur dit by ʼn tussenganger organisasie te plaas met die hoop om iets te kry met die bietjie geld. Om die saak verder te omlyn is onnodig, behalwe dat die betaling toe ook nog te laat ontvang is.

Sonder om ingewikkelde somme te maak, is die bestelling so klein dat al die werkers van die gesondheidsdienste nie eers geïmmuniseer sal kan word nie.

Intussen sneeubal die infeksies tot 18,000 per 24 uur, en die sterftes word al meer per dag, wat met reg die vraag laat ontstaan: Wie is nou aanspreeklik vir die beskerming van die land se inwoners?