Uit my Kuierkombuis

Gedurende hierdie deurmekaar jaar,  was ons verplig om vir ‘n tyd te moes rustig word en te waardeer wat rondom en naby ons is.   Dit was nogal my ervaring.  Ek het soveel meer in die natuur rondom my opgemerk en waardeer.  Daar was weer uitreik na  mekaar veral toe ons besef ons mag nie nou kontak maak nie ……………… en het jy ook weer ‘n drukkie aan jou arm waardeer!  Soveel van ons ouer mense in sorgsentrums is van hul geliefdes weggeruk, moes alleen sonder geliefdes naby tot sterwe kom.  Ouers, kinders en kleinkinders het gesmag na ‘n weersiens …………… die keer nie omdat hulle ver van mekaar woon nie,  maar as gevolg van die Covid19 virus se voorsorgmaatreels.

Tydens die inperkingstyd die afgelope jaar,  is verskeie nuwe resepte ontwikkel en ou resepte ook weer afgestof en ‘n nuwe jassie gegee.  So twee weke gelede het die kleinkinders by ons oorgeslaap ………….. en Ouma wou vir aandete,  iets anders maak.  Ek het toe die vleisbroodjie (21 Julie 2020) se resep gebruik.

Maalvleismengsel

60 ml droë rooi wyn

60 ml melk

250 ml sagte broodkrummels

1 kg binneboud maalvleis

1 eier liggies geklits

1 ui fyn opgesny

5 ml sout

5 ml mostertpoeier

3 ml gemengde kruie

3 ml veggie speserye

Vars gemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Week die broodkrummels in die wyn en melk.
  2. Voeg hierby die geklitste eier, gekapte ui  en geurmiddels en meng goed deur.
  3. Voeg nou die maalvleis by en meng alles sorgvuldig deur tot goed gemeng.

Skilpadjies

Weense worsies in kwarte gesny en gehalveer in die lengte

Streepspek repies om om die skilpadlyfie te vou.

  1.  Vorm frikadelle en druk effens platter.
  2. Hou frikkadel in jou handpalm en druk die weense worsie stompies in plek vir ‘n kop en vier pootjies.
  3. Die spekrepies kan nou oorkruis oor die skilpadlyfie geplaas word of soos wat ek gedoen het,  dit net in die lengte om die lyfie geplaas het.
  4. Ek het die skilpadjies op ‘n roosterrakkie in my convectionaire (glasoondjie) gebak (40 minute by 200ºC).  Andersins kan dit op ‘n gesmeerde bakplaat gebak word vir 25 – 30 minute by 180ºC tot gaar.
  5. Ek het dit voorgesit saam met outydse pampoenkoekies, rys en soetwortels.  Vir ‘n spatsel groen,  kan ertjies daarmee saam bedien word.