Uit my Kuierkombuis

Ek het deesdae altyd ‘n blikkie mosterdpoeier in die speseryrakkie.  So ‘n knippie mosterd en soms selfs ‘n teelepel by ‘n soutgereg,  sorg vir ‘n heerlike pikante geur.  Wanneer ek byvoorbeeld daardie maklike skudkors maak, voeg ek ‘n knippie rooipeper en ‘n teelepel mosterdpoeier daarby.  Of selfs by witsous so ‘n halwe tot 1 teelepel mosterdpoeier bring die geurigeheid van die witsous en die kaas daarin na vore.  Dan is die mosterdpoeier ook altyd handig wanneer ek ‘n tuisgemaakte mosterdsous saam met gepekelde tong wil voorsit.

Maar kom ons kyk eers na ‘n paar interessante feite betreffende mosterd.

Daar is drie kleure mosterdsaadjies beskikbaar.  Wit, swart en bruin.  Die wit mosterdsaad het ‘n matige geur en word algemeen gebruik in piekelmengsels. Ook in suurkool en marinades.  In Indië word dit in botter gebraai tot die saadjies ‘n skietgeluid begin maak.  Die botter het dan ‘n heerlike neuterige smaak.

Swart mosterdsaadjies het ‘n baie sterker geur as die wit saadjies en is ook effe kleiner.

Die bruin mosterdsaad lê tussenin.  Dit is net so groot soos die swart saadjies, maar minder skerp.  Dit het egter ‘n skerper geur as die wit saadjies.  Die bruin mosterdsaad word algemeen in kerriemengsels gebruik.

Mosterdblare is kleinerige, donkergroen blaartjies en het ‘n sterk peperagtige geur.  Dit is natuurlik heerlik op hamtoebroodjies en die jong blaartjies kan ook in slaai gesnipper word.  Oppas net vir te veel,  gebruik eerder  bietjie minder in die slaai sodat dit net die ander bestanddele van die slaai kan komplimenteer.

Nog ‘n interessante feit,  is dat dit die aangemaakte produk en nie die plant nie, wat oorspronklik die naam mosterd gekry het….n.a.v. die gemaalde saadjies wat tot ‘n pasta vermeng was met mos of te wel ongefermenteerde wyn …………… vandaar mos-terd.

Koning Louis XI, was so lief vir mosterd dat hy nooit daarsonder op reis gegaan het nie – net vir  ingeval hy by iemand moes tuisgaan of eet wat dit nie aangehou het nie.

Die mosterdplant behoort aan dieselfde familie as broccoli, blomkool, rape en radyse.

Wat die aangemaakte mosterd betref wat ons by enige kruidenierswinkel vandag kan aanskaf …………. is daar verskeie soorte aangemaakte mosterd en natuurlik ook die mosterdpoeier.

Dijon mosterd word van die swart mosterdsaadjies gemaak.  Die saadjies word afgedop en gemeng met wyn, sout en speserye. Dit is liggeel en gewoonlik meer matig wat sy geur betref.

Heelkorrelmosterd is aangemaakte mosterd waarvan die mosterdsaad nie gemaal of fyner gekap word nie.

Mosterdpoeier is ‘n koskasstaatmaker soos ek reeds na verwys het en die vorm word verkry deur droë saadjies te maal.  Dit hou ook lank maar moet lugdig gebêre word.  Meng dit altyd eers met koue water voor jy dit verhit wanneer jy souse daarvan maak om sodoende die beste geur na vore te bring.

Die mees bekende is sekerlik die engelse mosterd wat ‘n sterk skerp geur het en dit word dan ook van die wit mosterdsaad gemaak.  Die mosterd het ‘n donkerder kleur as van die ander aangemaakte mosterd.

En nou gaan ons die daad by die woord voeg met ‘n heerlike mosterd gegeurde gereg.  ‘n Happie wat u dadelik aan kan smul.

Italiaanse kaasbroodjies

4 dik snye ciabatta brood

1 ½ kop gerasperde cheddar kaas

50 ml sagte botter

1 e Gekapte vars pietersielie

15 ml sterk aangemaakte engelse mosterd

1 kop bros gebraaide speksnippers

Metode:

  1. Voer ‘n bakplaat uit met foelie en verhit die roosterelement. Sodra die roosterelement gereed is,  rooster die 4 snye brood tot ligbruin en verwyder uit die oond.
  2. Meng die gerasperde kaas, botter, mosterd en pietersielie tot glad.  Roer ook die spekstukkies hierby in en smeer ‘n dik laag op elke sny brood.
  3. Plaas dit terug op die bakplaat onder die roosterelement en braai totdat die kaas begin opborrel en goudbruin vertoon.
  4. Sit dit warm voor saam met ‘n skeppie marmelade.

U kan natuurlik ‘n paar broodrolletjies ook opsny en dieselfde kaasmengsel daarop smeer en rooster onder die roosterelement om as southappies voor te sit.

‘n Heerlike versnappering so saam met ‘n braaivleis.