Hoofsekretaris van HNP sterf

Die Hoofsekretaris van die HNP, mnr. Louis van der Schyff, is in die ouderdom van 70 jaar in die Zuid-Afrikaansche Hospitaal in Pretoria oorlede nadat hy opgeneem is vir Covid.

Mnr. Van der Schyff het die rekord gehou van die persoon wat die langste jare diens van ‘n politieke party in die geskiedenis van Suid-Afrika gehad het. Hy was amptenaar van die HNP vanaf 1 Januarie 1974 tot en met sy afsterwe op 28 Desember 2020, op enkele dae na 47 jaar. Die laaste byna 31 jaar daarvan was hy die party se hoofsekretaris en die laaste paar jaar het hy ook die redaksie van Die Afrikaner behartig, nadat hy reeds in 1974 sy joernalistieke opleiding by dié koerant gekry het toe die gesoute joernalis, wyle mnr. Beaumont Schoeman, die redakteur was.

Mnr. Van der Schyff was in sy jeug ook voorsitter van die HNP Jeugstrydaksie se Opperraad, in welke hoedanigheid hy betrokke was by die teer- en veer-aksie op wyle prof. Floris van Jaarsveld toe dié bepaalde negatiewe opmerkings oor Geloftedag gemaak het. Tydens verskillende algemene verkiesings sedert 1977 was Louis kandidaat vir die HNP. Enkele jare gelede is hy voor die Menseregtekommissie gedaag nadat hy ‘n kleurling joernalis van Beeld toegang tot die HNP se kongres in Akasia geweier het, en in sy getuienis voor dié kommissie het hy gesê dat die HNP nooit die onchristelike en humanistiese grondwet van die ANC sal erken nie.

Hy het ‘n besondere liefde vir die Afrikanervolk gehad en sy lewe aan dié passie gewy. Tydens die vyftigste bestaansjaar het hy ook die “HNP Gedenkalbum: ‘n Politieke voëlvlug oor vyftig jaar” saamgestel.

In sy lewe het hy dikwels gesê dat hy bevoorreg was om die politiek te kon leer aan die voete van mense soos dr. Albert Hertzog en mnre. Jaap en Willie Marais.

Mnr. Andries Breytenbach, leier van die HNP, sê dat Louis van der Schyff se werklike bydrae tot die Afrikanervolk waarskynlik nooit ten volle besef en waardeer sal word nie, en dat ‘n groot steunpilaar ons ontval het. Mnr. Breytenbach het namens die HNP-lede sy meegevoel aan die Van der Schyff familie oorgedra.

Mnr. Van der Schyff, wat ‘n besondere familiemens was, laat sy vrou, twee dogters en kleinkinders agter. Huldeblyke stroom van heinde en verre in.

Andries Breytenbach

Leier: HNP