Gesagsperke ingestel deur die Drieenige God

Die Alliansie het kennis geneem van die regering se arbitrêre sluiting van eredienste (en ander kerklike roepingspligte), welke optrede nie net inbreuk maak op vrye aanbidding nie, maar wat ʼn uitdruklike magsvergryp impliseer.

Alle gesag setel finaal en absoluut in die enigste ware God, Skepper en Beskikker oor die verloop van die wêreld, die God wat Homself aan ons openbaar in die Bybel.

Sy vasstelling van die omvang, maar veral die perke, van menslike gesag het ten doel die ordelike regering van die mensdom, en moet vir daardie rede altyd eerbiedig word, deur sowel owerhede as landsburgers.

Soos in April 2020, erken ons dat die burgerlike owerheid in eerste instansie, onder beskikking van God, die openbare maatskappy regeer.

Maar daardie owerheid is gebonde daaraan om te regeer in ooreenstemming met die beginsels van reg en geregtigheid, soos geleer word in die Bybel.

Elke menslike wetgewer, regering, regter en wet, insluitend enige grondwet, in sowel die konseptualisering as die toepassing daarvan, moet dus in elke opsig buig voor die finale gesag en voorskrif van God.

(onder andere NgB 36; kerkleer geskoei op Deuteronomium 17, Romeine 13 e.a.)

Ons herhaal: –

Die mees noodsaaklike diens ter enige tyd, maar veral te midde van nood, is die beoefening van die Christelike godsdiens.  Niks is belangriker as dit nie.

Sonder die HERE – alles tevergeefs! (Psalm 127)

Die beginsel dat die burgerlike owerheid in bepaalde omstandighede praktiese veiligheids-maatreëls mag instel, selfs afdwing, ook teen die institusionele kerk in uitsonderlike omstandighede, word nie betwis nie.

Daardie bevoegdheid word uitdruklik verleen – maar onderhewig aan perke en die behoud van kerklike gesag vry van staats-inmenging onder normale (of normaliserende) omstandighede.

(Romeine 13, beperk soos gestel in Handelinge 4 & 5)

Daarom mag die burgerlike regering nie onnodig op die gesagsveld van die kerklike regering inbreuk maak nie: ʼn regering wat homself dit aanmatig, oorskry die Bybelse perke van hulle gesag, veral indien hulle bevele teen die bevel van God gaan. (Deuteronomium 17, verse 18-19; Handelinge 4, verse 19)

Vir sulke optrede sal hulle voor die Regter van die wêreld verantwoording doen.

(Romeine 14, verse 11-12)

Terwyl ons inderdaad enige tyd, enige plek ons God kan aanbid, is die formele erediens uniek:

dit is God se afspraak met ons, ʼn afspraak ten behoewe van ons heil, maar veral tot Sý eer, en bywoning is ʼn erkenning van Sý soewereine gesag en ons dankbare gehoorsaamheid.

In April 2020, terwyl ons nie met regerings-inperking in elke opsig kon saamstem nie, was kerke nie uitdruklik uitgesonder nie soos nou nie.

Wanneer die erediens, verordineer deur die Almagtige God, Skepper en soewereine Koning, egter arbitrêr steeds as blote “sosiale geleentheid” (saam met sport en vermaak) beskryf word en kerke dan op grond daarvan gesluit word, terwyl ander instansies oop bly, oorskry die SA owerheid duidelik die skeidslyn van owerheids- en kerklike gesag – ʼn skeidslyn vasgestel deur God in sy uitsluitlik- soewereine gesag.

Dit is verder ʼn vergryp teen die gewetensvryheid van elke gelowige.

Dit oorskry ook die skeidslyn tussen regering en tiranie.

Die Alliansie doen daarom ʼn dringende beroep op die uitvoerende gesag om hierdie de facto vervolging van die kerk te staak. 

Die Alliansie doen verder ʼn beroep op die wetgewende gesag om uit hoofde van hul roeping, as magistrate aangestel oor die land, in te gryp en die mags-oorskryding aan bande te lê.

Die Alliansie doen verder ʼn beroep op die juridiese gesag om uit hoofde van hul roeping, as plaaslike regters ter beskerming van die land se mense, om met reg en geregtigheid die vervolging op elke terrein aan bande te lê.

Die Alliansie doen ten slotte ʼn beroep op elke gelowige en kerk tot:

Gebed ter inkeer of ingrepe om hierdie vervolging af te weer.

(1 Timótheüs 2, verse 1-2)

Gebedsvoorbereiding, vir volhardende geloof, sou vervolging verskerp of uitbrei.

Natuurlik móét die kerklike owerheid, in gemeente-verband, met verantwoordelikheid steeds voldoen aan enige redelike voorsorg-maatreëls soos wat die burgerlike regering voorskryf of aanbeveel.

Voorts móét enige lidmaat wie siek mag wees, wie weens onderliggende siektetoestande spesiale sorg aan die dag behoort te lê, self verantwoordelik wees om die gemeente in ag te neem.

Diesulkes moet deur die kerk pastoraal ondersteun en bedien word op welke ander wyses moontlik is.

Daar moet ook onomwonde herhaal word dat die erediens van God is nie bloot nog ʼn sosiale geleentheid nie. 

Ons durf ook nie van Hom enige uitkoms vra, of verwag nie, indien ons ons eie sakebelange bó Hom stel nie.