Brand van vragmotors kos miljarde

Miljarde Rand word verkwis met die brand van vragmotors wat deur ontevrede werkers gepleeg word, en het reeds ernstige letsels gelaat in die land se ekonomiese toestand.

Ekonome wys daarop dat die vernietiging van vragmotors nie die enigste verlies is wat veroorsaak word nie, aangesien die goedere wat vervoer word, en in die brand vernietig word, of deur mense gesteel is, dikwels groter skade is as die koopprys of vervanging van die uitgebrande voertuig.

Die werksgeleenthede wat ook daardeur verlore gaan, is vanself ʼn enorme las, wat uitkring na die breër gemeenskap, en word nie net voedselsekerheid bedreig nie, maar ander noodsaaklike middele is in die afgelope weke deur die brande geraak.

Mediese toerusting en medikasie, asook toerusting wat in hospitale en in apteke benodig word, het reeds in die slag gebly, terwyl menselewens ook daardeur geraak word.

Sowat 32 vragmotors, waarvan die meeste nog n vrag moes aflewer, het in vlamme opgegaan die afgelope maand, en die indruk word gelaat dat die ontevredenes nog nie hulle verwoestende werk gaan staak nie.

Ontleders sê daar is geen regverdiging vir sulke optrede deur die mense wat sê hulle doen dit omdat buitelandse vragmotor bestuurders aangestel word terwyl plaaslike bestuurders werkloos bly nie.\Ingeligte bronne reken die owerheid behoort instansies wat van buitelandse vragmotor bestuurders gebruikmaak, met swaar boetes te straf.