Uit my Kuierkombuis

Koekies wat altyd lekker is en bly,  is die bekende hawermoutblokkies wat ewe lekker vir koffietyd of ‘n kosblik happie, is.  Maklik om te maak omdat dit ‘n bakplaat koekie is.  Die blokkies kan jy die grootte van jou keuse sny.

Growwe Hawermoutblokkies  (±1,5kg koekies)

Bestanddele

750 ml klapper                                               

250 ml koekmeelblom

250 ml  x 4 hawermout                                  

374 ml witsuiker

2,5 ml sout                                                      

5 ml fyn kaneel

2,5 ml fyn neut                                              

2,5 ml wonderpeper (allspice)

250 ml botter                                                  

45 ml goue stroop

10 ml koeksoda opgelos in 60 ml melk

Metode:

  1. Meng al die droë bestanddele saam.
  2. Smelt vervolgens die botter en die stroop saam en voeg dit by die droë bestanddele.
  3. Meng die koeksoda met die melk en voeg dit by die deegmengsel en meng weer sorgvuldig deur. (Die beslag is krummelrig)
  4. Druk die mengsel in 2 voorbereide bakplate (37cmx25cmx2cm) vas sodat dit so 1,5 cm dik is. (ek gebruik ‘n koekroller wat mooi in die pan pas om die beslag egalig vas te rol.)
  5. Bak dit vir 12 minute in ‘n voor verhitte oond van 180ºC.
  6. Sny dit in blokkies sodra dit uit die oond kom, laat effens afkoel in die pan.  Lig dit dan uit mbv ‘n slaplemmes en laat die blokkies verder afkoel op ‘n draadrakkie.
  7. Verpak dit in ‘n lugdigte houer en seel dig.

**  Ek gebruik graag die growwe hawermout asook growwe klapper.  Kyk gerus uit vir die growwer weergawe klapper en hou dit in die ys-of vrieskas.

**  Proe altyd eers aan klapper voordat u dit gebruik sodat dit nie galsterig is en dan die koekies/gereg waarin u dit gebruik bederf nie.

Geniet elke  happie hiervan!