Rekord prys vir Marie-Antoinette pantoffel

Die Franse vorstin, Marie-Antoinette was op haar dag seker die mees gehate koninklike wat Frankryk ooit geken het, en dit het dalk bygedra tot die rekord prys wat haar pantoffel behaal het op ʼn onlangse veiling.

Alhoewel die pantoffel se prys die afslaers van Osenat verras het met ʼn bedrag wat nie verwag is nie, vergelyk dit nie met die derduisende dollar wat haar juwele behaal het nie.

Die pantoffel van die koningin wat in die jare voor 1789 se revolusie die septer geswaai het, se prys van $51,780 het Sondag die Franse bevolking net die kop laat skud uit pure verbasing.

Die veiling is in Versailles gehou, die eertydse vesting van die Franse koninkryk waar Marie-Antoinette in uiterste weelde haar lewe geniet het tot die land se geskiedenis dramaties verander het.

Sowat 227 jaar na haar teregstelling het die familie besluit om die pantoffel wat vir geslagte bewaar gebly het, te laat opveil deur die bekende Osenat afslaers.