Generaal Ace ondermyn Ramaphosa

Die ANC verkeer in ʼn ongemaklike situasie met sy Sekretaris-Generaal, Ace Magashule wat weier om uit te tree uit sy amp, al sê die president dat hy eenkant toe moet staan.

Magashule sê hy is demokraties verkies deur die ANC lede, en net hulle kan besluit wat moet gebeur, en kan sê of hy sy pos moet ontruim, en niemand anders nie.

Met die opmerking word die kloof tussen die Zuma faksie en die Ramaphosa ondersteuners nie net dieper nie, maar ook veel wyer.

Magashule word aangekla van korrupsie, bedrog en geldwassery, wat veroorsaak het dat hy borgtog toegestaan is van R200,000.

Volgens berigte is hy deel van die korrupte span wat die R255 miljoen kontrak vir asbes dakke misbruik het vir eie gewin, terwyl slegs R21 miljoen gebruik is om die kontrak “af te handel”.

Waarnemers is van mening dat die Ramaphosa kamp hul kaarte versigtig sal speel wanneer die stryd aangeknoop sou word, maar die ondersteuners het reeds met die eerste verskyning voor die landdros getoon dat hulle tevrede is met die moontlikheid van ʼn korrupte persoon in ʼn sleutel posisie.