Waarheen wil Afrikaners

Die onduidelikheid is besig om geleidelik te vervaag en plek te maak vir nuwe ontwikkeling in die geledere van die Afrikanervolk.

Die afgelope twintig jaar het die Afrikaners hard gewerk om hul individuele verknorsing te omskep in ʼn meer volhoubare situasie, en alhoewel almal nie ewe suksesvol daarmee is nie, het dit tog die moontlikheid van nuwe koers en rigting begin toon.

Die Senekal gebeure waar boere hul frustrasie en ongelukkigheid getoon het deur ʼn polisie voertuig te beskadig, is waarskynlik die eerste stap om die nuwe koers en nuwe rigting aan te dui.

Die boodskap is in geen onduidelike taal gewees nie: genoeg is genoeg.

Sameswering met die veiligheidsmagte is een saak, maar boere en volksgenote het ook besef dat beter opleiding, beter kommunikasie, beter onderlinge samewerking nou die prioriteite is om voedselsekerheid en veiligheid van volksgenote en hulle gesinne meer aandag versien as wat tot nou daaraan gewy is.

In die daaropvolgende stappe sal Afrikaners weer nuwe inisiatiewe moet lei om volksgenote ekonomies en maatskaplik te versterk terwyl die slagordes vir oorlewing opgestel word.

Die ideaal van volksvryheid is nog steeds brandend in die harte, en almal is bewus van die lang en moeisame pad om daarby uit te kom, maar sonder die nodige voorbereidings sal die ideale net mooi drome bly.

Die tyd het gekom dat ons die verskille in eie geledere laat eenkant lê en die fokus verskuif na die noodsaaklike dinge wat eers gedoen moet word voor die volgende geslag die groter taak verrig.

ʼn Kragtige eie ekonomiese basis, die vestiging van infrastruktuur wat daarmee die volk se paraatheid verhoog, en ʼn veiligheids netwerk wat weer vaste vertroue help vestig en ons volk weer sal ophef tot die trots wat tans ontbreek.