Virus pandemie verlam wêreld

Die toename in die verspreiding van koronavirus infeksie is besig om ʼn tweede wêreldwye pandemie te word wat nie net die hele wêreld ekonomies verlam nie, maar ook miljoene mense se lewens bedreig.

Selfs in Suid-Afrika is kommer uitgespreek oor die geleidelike toename in nuwe gevalle, en die sterftes wat nou na 20,000 se kant beweeg en die nuwe gevalle wat ot byna 2,000 per dag styg, is daar geen rede om gerus en onverskillig te wees nie.

As in aanmerking geneem word dat minder as 5 miljoen mense getoets is vir infeksie, dan is dit nie eers 10% van die totale bevolking nie, en kan daar met ʼn mate van sekerheid gesê word die huidige statistieke is nie realisties en korrek nie.

Wêreldwyd word ʼn tweede pandemie werklikheid, en met die totale infeksies nou meer as 42,3 miljoen, en die sterftes verby die 1 miljoen merk, is die kanse op ʼn omdraai slegs moontlik met die vrystelling van entstof wat doeltreffend versprei kan word onder die wêreld se bevolking.

Die verlammende uitwerking op ekonomieë laat armer lande, en lande met ʼn hoë skuldlas, waarvan Suid-Afrika een is, sukkel om ekonomies te herstel, en omdat die regering nie oor ʼn doeltreffende meesterplan na vore kon kom nie, sal die land nog lank die ekonomiese kreeftegang gaan.