Verbruiker, pasop vir Swart Vrydag

Met byna 40% van kopers in SA wat deesdae hulle aankope aanlyn doen uit vrees vir die Covid-19 koronavirus, kan slenters en slim handel foefies die verbruikers om die bos lei.

Alhoewel die Swart Vrydag eers in November aangebied word, behoort verbruikers nou reeds huiswerk te doen en seker maak van pryse, beskikbaarheid, gehalte, en alternatiewe aanbieders sodat hulle ten volle op hoogte is van wat werklik as “spesiale aanbieding” gesien kan word.

Navorsing het gewys dat mense te veel betaal het vir artikels omdat hulle nie op hoogte van pryse was nie, en ook nie die verskillende vervaardigers teen mekaar vergelyk het nie, asook die verskillende handelaars wat dit as “spesiale aanbod” vir Swart Vrydag adverteer.

Huisvroue wat ʼn studie van Swart Vrydag se aanbiedinge gemaak het waarsku dat die produkte wat geadverteer word, dikwels die volgende dag na Swart Vrydag, aansienlik goedkoper gekoop kon word.

Verbruikers moet ook in gedagte hou dat Swart Vrydag ingestel is wat handelaars in ʼn gunstige posisie plaas om voorraad waarvan hy te veel het, of wat hy nie verkoop kry nie, van die hand te sit deur dit ʼn spesiale aanbod item te maak.