Uit my Kuierkombuis

Aan die einde van ‘n week wil ons soms net iets ligs maak om te eet wat tog ook geurig is …………. sien dus in u geestesoog …………. ‘n  ronde broodrolletjie,  met ‘n geurige maalvleiskoekie,  blaarslaai, tamatie, ‘n skyfie kaas en gebraaide of rou uie met ‘n sousie gemaak van blatjang, tamtiesous en mayonaise ………. ‘n heerlike vooruitsig vir ‘n Vrydagaand of vir wanneer die geleentheid hom voordoen!

Net vir interessantheid …………..Die sogenaamde hamburger het skynbaar sy naam gekry van matrose wat uit Hamburg, duitsland per skop op pad na Amerika toe was.  Volgens oorlewering, het hull moeg geword vir die alledaagse en die vars vleis in klein stukke opgesny en toe weer saamgevoeg as ‘n reuse “Hamburger steak” ….. afkomstig van Hamburg…. wat later verkort is tot ‘n hamburger.  Vandag word hamburgers vrylik as wegneemete te koop aangebied, sommiges plankdun en piepklein, ander reuse vleiskoekies van ‘n goeie dikte en sappig met die hapslag.  Met bykomstighede te kies en te keur. 

Deesdae is daar ook oulike vorms waarmee die vleiskoekies vooraf gevorm en gevries kan word tot dat dit gebruik word.  Laat dit dan net ‘n bietjie ontdooi ….. en dit is reg vir gaarmaak.

Vir ‘n Basiese vleiskoekiemengsel het ons  die volgende nodig:.

500 g gemaalde binneboudmaalvleis

1 medium ui,  fyn gekap

1 dik sny brood,  geweek in 125 ml melk

5 ml sout

5 ml veggie speserye / 5 ml flippen lekker speserye (wat gemaalde koljander in het)

½ t wit peper of andersins grofgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1.  Meng die bestanddele liggies met ‘n vurk tot deurgemeng en vorm ronde plat koekies.
  2. Indien u ‘n vormpie het,  maak u ‘n bolletjie met die maalvleis, plaas dit in die vormpie en druk dit effens plat …….. soos aangedui op die aanwysings.
  3. Rooster nou die vleiskoekies in ‘n gietysterpan gesmeer met ‘n bietjie olie,  of ‘n riffel gietysterpan (wat dit ook ‘n heerlike amper braaivleisgeur gee),  of op die rooster oor die kole,  of onder die rooster element van die oond.  Braai aan albei kante tot bruin en deurgaar.
  4. Hierdie hoeveelheid hamburgermengsel behoort 6 medium vleiskoekies te maak.

Indien u nie dadelik die vleiskoekies gaan gaarmaak nie,  kan u dit in die vrieskas plaas vir ‘n volgende geleentheid.

En vir die wat nie lus is vir die broodjie nie,  is dit steeds ‘n gesonde ete saam met ‘n slaai wat jy self kan bymekaar sit met die bykomstige bestanddele wat andersins op die broodjie geplaas sou word.