Uit my Kuierkombuis

Kerrie en rys is altyd ‘n heerlike kombinasie ………. Voeg daarby gebraaide uie en geelperskes en jy het ‘n wenner!

Veral wanneer daar ‘n koeligheid of reën in die lug is,  sorg ‘n kerrie gereg altyd vir ‘n tikkie warm kleur en geur!

Kyk gerus uit,  hoenderborsies is nou al vir ‘n geruime tyd onder vyftig rand per kilogram en jy kan baie daarmee doen.  Snipper dit in repies vir roerbraai of in blokkies vir sosaties of Chicken al la King of braai dit tot geurigheid in ‘n heerlike soet-suur kerriesous.

Kerrie-en-perske-hoender

1 groot ui in ringe gesny

30 ml botter

10 – 15 ml matige kerriepoeier

5 ml borrie

Sout en peper na smaak

1 blik geelperske halwes met sous/stroop

4 hoenderborsfilette, deurgesny

Metode:

  1.  Soteer die uie in die botter tot deurskynend,  voeg die kerriepoeier en borrie by en roer deur oor matige hitte vir ongeveer 1 minuut.
  2. Sny die hoenderborsies in die lengte deur in porsiegroottes en voeg by die uie en kerriemengsel.
  3. Braai liggies oor matige hitte terwyl u die vleisporsies gedurig omdraai.
  4. Snipper die helfte van die geelperskes in kwarte en voeg by die hoender sowel as die sous/stroop.
  5. Geur na smaak met sout en peper.
  6. Laat prut met deksel op en roer af en toe deur tot gaar. (± 30 minute)
  7. Bedien saam met rys,  wortel- en broccolislaai of ‘n mengelslaai.
  8. Skep van die geurige sous oor die rys.

Die res van die perskes wat oorbly,  kan u vries om later te gebruik,  of snipper een van die halwes as garnering oor net voor opdiening.  Rond die kleurryke gereg af met vars gesnipperde pietersielie.

**  Ek persoonlik hou by matige kerriepoeier,  maar u is welkom om sterker kerriepoeier te gebruik.