Uit my Kuierkombuis

Wanneer ek aan plaatkoekies dink,  dink ek aan my peetma,  Emmie Loock wat vir ons as kinders plaatkoekies gebak het op haar ou elektriese wafelpan se agterkant wat glad was.  Dié wafelpan kon ook heeltemal oopvou sodat jy gelyktydig op albei plate plaatkoekies kon bak! Net vir interessantheid,  die ouer model wafelpanne se twee panele kon losgemaak en omgedraai word sodat jy wafels op die anderkant kon bak.

Die resep het egter nog al die jare dieselfde gebly en is altyd ‘n wenner vir ‘n teetafel of ligte bederf aandete op ‘n Sondagaand. 

Plaatkoekies

2 ekstragroot eiers

75ml witsuiker

25 ml sonneblomolie

500 ml koekmeelblom

20 ml bakpoeier

2,5 ml sout

375ml melk ** (die melk word in twee dele by die beslag gevoeg)

Metode:

  1.  Gebruik elektriese klitser en klits die eiers en suiker saam.  Voeg nou **125ml van die melk by asook die olie en klits goed deur.
  2. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en voeg dit by die eiermengsel.
  3. Voeg die **res van die melk geleidelik by terwyl u die beslag klits om ‘n gladde mengsel te vorm.
  4. Verhit ‘n pan wat of bespuit is met kleefwerende middel of gesmeer is met ‘n eetlepel olie voordat die deeg daarop geskep word.
  5. Skep nou lepelsvol deeg (ongeveer 5 per keer) in die verhitte pan.  Sodra daar borreltjies bo-op die deeghopie vertoon,  kan ‘n eierspaan gebruik word om die plaatkoekie om te draai.
  6. Bak die plaatkoekies dus aan beide kante tot goudbruin.
  7. Bedien die plaatkoekies saam met botter,  gerasperde kaas, fyn biltong, heunig of gouestroop of enige soutsmeer of konfyt van u keuse.

*** My Ma het soms die stroop en botter vooraf gemeng in ‘n bakkie sodat ons met minder mors,  die plaatkoekies kon smeer en eet!

Wenke:

  1.  Moenie die olie te warm maak in die pan nie, sodat die plaatkoekies behoorlik deurgaar kan bak.
  2. Ek gebruik ‘n souslepel wat dubbeld so groot soos ‘n kommietjievormige suikerlepel is,  om die deeg in die pan te skep……. wat sorg dat al die plaatkoekies mooi ewe groot is.
  3. Vir ‘n teetafel,  kan die soet plaatkoekies voorgesit word met ‘n bakkie geklitste room. Vir garnering,  kan kruisementblare by die soet bord gebruik word en pietersielie by ‘n bord met soutbedekte plaatkoekies.