Turke skiet Armeense vegvliegtuig

Die Minister van Verdediging in Armenië beweer dat die Turkse lugmag een van sy SU-25 vliegtuie afgeskiet het met ʼn Turkse F-16 vegvliegtuig.

Turkye het die beskuldiging dadelik afgemaak as ʼn “absolute onwaarheid”.

Die vliegtuig is glo afgeskiet terwyl die gevegte uitbrei tussen Armenië en Azerbaidjan wat tans weier om met mekaar in onderhandelings te gaan.

ʼn Woordvoerder van die Armeense Minister van Verdediging beweer die SU-25 is neergeskiet deur die Turkse F-16 wat ook die dood van die vlieënier tot gevolg het.

Die gevegte tussen Armenië en Azerbaidjan  word al hewiger nadat beide lande ook hulle vegvliegtuie betrek het in ʼn poging om die geskil oor die   Nagorno Karabakh te besleg.

 ʼn Woordvoerder van die Turkse President Erdogan het gesê Armenie moet sy beskuldigings staak en onttrek uit die Nagorno Karabakh gebied, aangesien dit nie sy eiendom is nie.