Taliban verwelkom VSA troepe onttrekking

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging dat sy land se troepe teen Desember onttrek gaan word uit Afghanistan, is deur die Taliban verwelkom.

Die Taliban het die Amerikaanse besluit as :baie positief” bestempel, en politieke ontleders sê die optrede van President Trump is deel van sy verkiesingsbelofte van 2016 wat nou nagekom word alhoewel die eerste troepe reeds vroeër teruggekeer het na Amerika.

Die Amerikaanse troepe onttrekking val ook in lyn met die ooreenkoms wat in Doha bereik is tussen die VSA en die Taliban.

Die onttrekking van Amerikaanse troepe volg na ʼn tydperk van bykans 20 jaar wat die VSA in Afghanistan diens verrig het, maar wat president Trump beëindig het deur vrede-ooreenkomste te bereik tussen die regeringsmagte van die land en die Taliban.

President Trump het op die sosiale netwerk gesê hy wil die dapper soldate , manne en vroue, terug verwelkom in Amerika teen Kersfees.