Ryk lande sal arm lande help

Woordvoerders van die wêreld se rykste lande het ingestem tot ʼn projek om die arm lande wat swaar getref is deur die Covid-19 pandemie, finansieel te help.

Een van die grootste bydraes wat gelewer sal word, is om die termyn van terugbetaling op bestaande lenings, verder te verleng.

Die besluit kom nadat berig ontvang is van talle armer lande wat sukkel om die mas op te kom weens die enorme skuldlas waarin hulle hulself bevind nadat die pandemie losgebars het.

Finansiële ministers en sentrale banke van die G20 lande het die week besluit om “wat dit ook al kos” die wêreld se ekonomiese stand te herstel, en daarmee ook die arm lande op te help.

Die G20 leiers het ʼn video en virtuele byeenkoms gehad om die uitwerking van die pandemie in oënskou te neem.

Die hulpprogram aan arm lande sal ook beteken dat die verpligte terugbetalings vir die volgende ses maande gevries word sonder om bykomende rente op die lenings te hef.