Reuse “ontploffing” skud Parys.

Die Franse hoofstad Parys was gister in rep en roer toe ʼn reuse slag die stad getref het wat in elke uithoek gehoor kon word.

Die slag was so hewig dat die polisie, die brandweer en sekuriteitsdienste almal op gereedheid gestel is, maar nie gou genoeg kon vasstel waar die slag plaasgevind het nie.

Uiteindelik het die Nasionale Lugmag erken dat een van sy supersoniese vegvliegtuie oor die stad gevlieg het en deur die klankgrens gebars het, wat menige geboue se vensters laat ratel en deure geskud is.

Later het die polisie sowel as die brandweer gesê hulle het nog nooit soveel telefoniese navrae gekry as met die gebeurtenis nie.

Inwoners het verbaas opgemerk hoe voëls in alle rigtings probeer vlug terwyl honde en katte skuiling gesoek het teen die donderslag wat “van nêrens” afkomstig was nie.