Nagorno-Karabach konflik word oorlog

Te midde van die ernstige oproepe wat gerig is tot die leiers van Azerbaidjan en Armenië om gehoor te gee en na die onderhandelings tafel te kom, word die gevegte al hewiger.

In die jongste voorval het Armenië n vyandelike hommeltuig neergeskiet end it het gelei tot hewige teenaanvalle.

Frankryk, Duitsland, Amerika en Brittanje het saam met Rusland versoek dat ʼn skietstilstand onverwyld ingestel moet word om te voorkom dat die konflik vererger tot volwaardige oorlog.

Die gevegte het uitgekring tot aan die buitewyke van die Armeense hoofstad Jerewan, waar verskeie hommeltuie reeds neergeskiet is.

Woordvoerders van die Armeense Verdedigingsmag sê minstens vier van die vyandelike hommeltuie is afgeskiet in die nabyheid van die hoofstad.

Die hewige stryd wat gaan oor die Nagorno-Karabach streek sal nie maklik beëindig word nie, en meningsvormers reken die toetrede van prominente leiers is die enigste hoop om beide te oorreed tot ʼn skietstilstand.

Meer as ʼn 100 mense, waarvan daar ook burgerlikes is, het al omgekom in die geweld, terwyl meer as 400 reeds in hospitale behandel word vir wonde wat opgedoen is.