Motor rubriek – BMW X6 M50d xDrive Steptronic

Waar die luikrug BMW X6 met ‘n sleurkoëffisiënt van 0,36 ookal beweeg op die pad, trek dit aandag. Veral van agter gesien en die 315/30 R22 Pirelle P Zero bande op allooi wielnawe word opgemerk, dan besef ‘n mens dit is nie om dowe neute nie. Daardie breë agterwiele het werk wat gedoen moet word – daar moet krag oorgedra word na die pad.

Met ‘n mens se nuuskierigheid geprikkel gaan lees ‘n mens die tegniese spesifikasies en laat die maksimum wringkrag van 760 Nm tussen 2000 en 3000 o.p.m jou besef hierdie BMW kan werk verrig. Na verneem word kan dit van 0 tot 100 km/u versnel in 5,24 sekondes en die volgens die vervaardiger se syfers is die topsnelheid 250 km/u. Daar kan aanvaar word dat die topsnelheid daar beperk word. Die krag beskikbaar van die reguit, ses silinder, 2993 kub. sentimeter diesel kragbron tussen 4400 o.p.m. en 5000 o.p.m., is 294 kW. Vier turbo aanjaers met ‘n tussen verkoeler, direkte, elektroniese brandstofinspuiting sorg dat die korrekte brandstof mengsel, die suiers bereik. Voorts sorg vier kleppe per silinder, wat deur ‘n oorhoofse nokas oop en toe gemaak word dat die enjin kan asemhaaal. ‘n Agt spoed outomatiese ratkas hanteer die krag oorbrenging via ‘n dryfas na die agterwiele.

Van voor gesien is die bekende niertjie vormige sierrooster met die luginlate wat met mat swart afwerking gedoen is, verantwoordelik daarvoor dat hierdie X6, ‘n besonderse voertuig is. LED hoofligte vorm deel van die voorste buffer en die BMW embleem is op die enjinkap gemonteer.

BMW se ingenieurs het gesorg dat die ABS remstelsel met 385mm geventileerde skywe op die voorwiele en 345mm geventileerde skywe op die agterwiele, met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom. Bykomende hidroliese hulp d.m.v EBD en EBA stelsels, vergemaklik die stilhou verder. Die voorwiele wat gebruik word is allooi wielnawe geskoei met 275/35 R22 Perilli P Zero. Luginlate in die voorste buffer is behulpsaam met die verkoeling van die voorste remskywe.

Die afwerking buite die voertuig sowel as binne in, is van hoogstaande gehalte. Wanneer in die voertuig ingeklim word, sorg die leerbedekte sitplekke dat “sitkamer” gerief beskikbaar is. Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar met die middel konsole wat verskeie skakelaars en die ratkies hefboom bevat. Digitale instrumente is direk voor die bestuurder gepas en die aanraakskerm met die lugversorger se uit/inlate is op ‘n hoek gemonteer en dit is dus maklik beheerbaar deur die bestuurder. Op die dik raam, leer bedekte stuurwiel is verskeie skakelaars gemonteer met ge-borselde alluminium afwerking van die drie speke. Lugsakke is standaard, ‘n 3D Bang en Olufsen radio sorg vir vermaak, snelheidsbeheer, Isofix ankerpunte, hoofligte en windskerm veërs wat outomaties aanskakel en nog talle ander toerusting.

Vir die agterste passasiers is daar genoeg ruimte om ‘n gemaklike sitposisie in te neem en die gerief van die passasiers is nie agterweë gelaat nie en daar kan met gemak ingeklim word.

Die agterste sitplek se leuning verdeel in ‘n 60:40 verhouding en wanneer dit plat gevou word, verhoog die bagasieruim se inhoud van 424 liter na 1040 liter.

Word daar agter om die voertuig beweeg, trek die ovaal uitlaatpype jou aandag asook die agterligte wat ‘n eenheid vorm met die agter modderskerms en die bagasie bak se deksel. Die bagasie bak se deksel maak oop tot op ‘n hoogte van 1,8 meter en bagasie kan dus met min moeite gelaai word.

Wat baie belangrik is, is die BMW se padgedrag. Dit is van hoogstaande gehalte en daarvoor sorg die onafhanklike , dubbel wensbeen, spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en onafhanklike, multi-koppeling, spiraalvere en anti-rolstaaf op die agterste veerstelsel. Hierdie voertuig is in sy element op die pad. Of jy op die snelweg beweeg, of in die stad of selfs op ‘n ruwe grondpad, dit stel nie teleur nie.

Voorts is dit ‘n veeldoel voertuig en dit kan gebruik word deur die natuurliefhebber om ‘n besoek aan die wildtuin te bring of om die kinders na sport byeenkomste te vervoer of om Sondag kerk toe mee te gaan of vir die besigheidsbestuurder om daagliks mee werk toe te gaan.

Dit kan aanbeveel word, sou u huidige BMW wou vervang of een wil aanskaf, kan u dit gerus vir ‘n toetsrit gaan neem by u naaste BMW handelaar.