Motor rubriek – BMW 330d Steptronic

BMW was nog altyd bekend daarvoor dat die reguit ses silinder enjin ‘n kragbron van formaat is.

Die heel nuutste 330d trek dadelik die aandag waar dit ook al mag beweeg en wanneer daardie bekende ses silinder geluid gehoor word, dan weet ‘n mens ‘n “BM” is oppad. BMW se ingenieurs het seker gemaak dat hierdie motor aan bykans alle vereistes voldoen waaraan gedink kan word. Die beproefde aandrywing na die agterwiele word nog steeds deur middel van ‘n dryfas gedoen d.m.v. ‘n agt spoed outomatiese ratkas wat aan die enjin gekoppel is en met die direkte elektroniese brandstofinspuiting, tussen verkoeler, turbo aangejaagde enjin, is daar 195 kW beskikbaar tussen 4000 en 5000 o.p.m. en die maksimum wringkrag is beskikbaar tussen 1750 en 2750 o.p.m. Vier kleppe per silinder sorg dat die enjin kan “asemhaal”. Volgens inligting bekom is die BMW instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 5,68 sekondes en volgens die vervaardiger is dit instaat om ‘n topsnelheid van 250 km/u te bereik. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 5,2l/100 km. wat nie te versmaai is nie. Met die brandstofhouer wat 59 liter neem, kan daar dus ‘n aansienlike afstand afgelê word voordat dit nodig is om brandstof in te gooi.

Die afwerking van hierdie motor is van hoogstaande gehalte en wanneer die voertuig genader word, trek die niertjie vorminge sierrooster dadelik die aandag. Dit word beklemtoon met die chroom afwerking om die sierrooster en die langwerpige LED hoofligte wat die werk gedurende die nag doen. Die onderste luginlaat is met mat swartafwerking gedoen en die kolligte is op hulle beurt weer in hulle eie plek, links en regs onder gemonteer.

Wanneer daar in die motor ingeklim word, word ‘n mens getref deur die afwerking wat van hoogstaande gehalte is. Vernasca swart leer is gebruik vir die bedekking van die sitplekke en die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar vir vorentoe en agtertoe en dit het ook ‘n hoogte verstelling terwyl die agterste sitplek se leuning in ‘n verhouding van 40:20 40 plat gevou kan word. Die sitplekke voorsien ondersteuning op al die strategiese plekke van ‘n mens se liggaam en ‘n “sitkamer” gemaklike sitposisie kan ingeneem word.

Op die stuurwiel met die bekende BMW embleem in die middel, is daar verskeie skakelaars gemonteer wat gebruik word om die toerusting te beheer. Onder andere is daar ook aluminium lepels agter die stuurwiel gemonteer, sou daar verkies word om die rat skakeling deurmiddel van dit te doen. Die snelheidsmeter, toereteller en ander kleiner instrumente is voor die bestuurder in die instrumentpaneel gemonteer met die aanraakskerm en ander beheer toerusting in die middel van die instrumentpaneel. Van die toerusting sluit in ‘n lugversorger, radio met stem-beheer, snelheidsbeheer en nog talle ander beheer toerusting.

Die rat kieshefboom is in die middel konsole gemonteer en pas gerieflik in die palm van die linkerhand. In die konsole is daar pakplek vir kleiner items en al die vensters word elektries beheer. Van die veiligheids toerusting sluit in lugsakke en uiteraard die normale veilgheidsgordels. Isofix hegpunte bestaan om die baba stoel aan te heg.

Vir die agterste passasiers is daar baie plek vir lang bene selfs al is die bestuurder se sitplek op sy verste terug geskuif. Wanneer die agterste sitplek se leuning platgevou word, vermeerder die bagasieruimte se grootte van 368 liter na ‘n 1000 liter.Van die kant gesien is daar veel speek allooi wielnawe gepas geskoei met Pirelli P-Zero 225/40 R19 bande en deur die speke kan die 348 mm geventileerde skywe met hulle knypers op die voorwiele gesien word en op die agterwiele kan 345 mm geventilleerde skywe en hulle knypers gesien word. Die ABS remstelsel met EBS en EBA ondersteuning sorg dat die motor met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom.

Op die voorste veerstelsel word daar gebruik gemaak van die beproefde MacPherson onafhanklike veerstelsel met spiraalvere en ‘n anti-rolstaaf en op die agterste veerstelsel word ‘n soortgelyke stelsel gebruik. Hierdie veerstelsels verseker dat die padhouvermoë van hoogstaaande gehalte is en die motor is die ideale motor om die langpad mee aan te durf.

Van agter gesien is daar ‘n ingeboude mini drukvlerk op die bagasiebak se deksel te sien met die bekende BMW kenteken in die middel. Die agterligte vou om die hoeke van die bakwerk en is duidelik van die kant te sien en dit vorm ook deel van die bagasiebak se deksel.

Of jy ‘n BMW ondersteuner is of nie, hierdie is ‘n motor van formaat en u kan dit gerus op u aankooplys plaas sou u dit oorweeg om ‘n motor van hierdie bou aan te skaf.