Korrupsie verniel SA

Die groot en omvangryke korrupsie gevalle is die hoofrede waarom die Suid-Afrikaanse ekonomie op ʼn algehele laagtepunt is.

Dit is nog nie seker hoeveel miljoen Rand aan ANC leiers gegee is met die wapen aankope uit Frankryk nie, maar daar bestaan weinig twyfel dat die bedrag baie miljoene Rand beloop.

Die fiasko met die aankoop van treine is so ellendig dat dit diegene wat daarby betrokke was, uit wys as die swakste van die swakkes, en die onbetroubaarste van die wat gewantrou word. Die seel wat opgesit is, was toe die treine weer verkwansel moes word teen ʼn reuse verlies omdat hulle nie geskik is vir die Suid-Afrikaanse spoor stelsel nie.

Die Staats kaping het reeds soveel gerugte, getuienisse, bewerings en beskuldigings na vore gebring dat dit onnodig is om iets daarvan te herhaal, maar kan gesê word dat dit die Suid-Afrikaanse beeld in die buitewêreld so vernederend geskaad het dat die herstel daarvan dekades sal neem.

 Sou die onvermelde korrupsie soos in Eskom, Denel, Poskantoor, SABC, SAL en andere se bedrae bygereken word, sal dit ʼn duideliker beeld gee van waar die land staan op finansiële gebied.

Dit is hierdie enorme bedrae wat nie net die skuldlas van die staat hemelhoog laat styg het nie, dit het ʼn klomp skelms en swakkelinge verryk sonder dat die swaard van die owerheid gebruik is.

Of die straf wat in die komende maande uitgedeel gaan word, die skelmstreke aan bande gaan lê, word betwyfel, veral as daarop gelet word op die een enkele faktor van hoeveel skelms is nou aan die man gebring, en hoeveel loop daar buite sonder dat ʼn vinger teen hulle opgetel word.