Kanselier Merkel ontmoet Belarus opposisie leier

Kort nadat president Emmanuel Macron van Frankryk ʼn ontmoeting met die opposisieleier van Belarus gehad het, kondig die Duitse Bondskanselier aan dat sy ook ʼn afspraak het met die dame.

Merkel het in die Duitse parlement (Bundestag) ʼn kort lofrede gevoer oor die deursettingsvermoë en durf van Sviatlana Tsikhanouskaya wat nie

 huiwer om teen die president, Alexander Lukashenko, op te staan nie.

Sy het tydens haar toespraak gesê sy beplan om ʼn gesprek te voer met die dame wat die leier is van die grootste opposisieparty in Belarus.

Alhoewel geen datum en plek van ontmoeting gefinaliseer is nie, sal dit so gou moontlik gebeur, het die Kanselier gesê.

Angela Merkel het later herhaal dat sy die dame bewonder vir haar deursettingsvermoë en daadwerklike optrede en haar doelgerigtheid teen die korrupsie in die land.

Politieke ontleders sê die optrede van Merkel en president Macron plaas geweldige druk op die omstrede president van Belarus, en voortgesette optrede van die aard kan hom dwing om uit te tree.