Geen einde van oorlog, sê Azerbaidjan

Azerbaidjan se President Ilham Aliyev het die naweek gesê die oorlog met Armenië sal nie ophou voordat hulle onttrek uit die Nagorno-Karabach gebied wat deel is van Azerbaidjan se grondgebied nie.

Die president het gesê die Armeniërs moet eers ʼn tydtafel vrystel van hulle onttrekking uit die gebied sowel as in die omliggende dele wat ook deel van sy land is, voordat daar sprake kan wees van ʼn skietstilstand.

Hy sê sy land sal nie ophou om militêr op te tree teen Armenië solank die vereistes nie nagekom is nie, en waarnemers reken dit kan nog baie lank duur aangesien die Armeniërs geen aanduiding gegee het dat hulle sal onttrek nie.

Die Armeniërs het wel vroeër gesê hulle is gereed om samesprekings oor ʼn skietstilstand te hou, maar is ewe vasbeslote om nie tot ʼn skietstilstand oor te gaan nie.

Die president van Azerbaidjan het beklemtoon dat Nagorno-Karabach deel is van sy land se grondgebied, en dit moet weer teruggegee word aan die land deur Armeniërs wat die gebied ontruim.

“Laat Armenië sy troepe onttrek uit die gebied, maar nie net met woorde nie, maar met dade, dan sal die gevegte stop”, het die president gesê.