Duitsland waarsku Turkye oor gas soektog

Die Duitse Minister van Buitelandse Sake, Heiko Maas het ʼn ernstige waarskuwing gerig tot Turkye oor sy provokasie in die Mediterreense Oseaan.

Minister Maas het Turkye daarop gewys dat sy teenwoordigheid in die seegebied nie aanvaarbaar is nie, en dat Duitsland vas staan by Ciprus en Griekeland wat beide lede van die Europese Unie is.

Maas sê Turkye moet met sy optrede bewys dat hy bereid is tot gesprekvoering soos wat hy verskeie kere reeds te kenne gegee het.

Die Turkse skip het Maandag die Mediterreense Oseaan ingevaar en met seismiese ondersoeke begin op soek na gas en olie bronne, te midde van besware van Ciprus en Griekeland.

Die Europese Unie het vroeër gedreig om sanksies teen Turkye in te stel as Ankara voortgaan met sy soektog.