Belgiese dame word prinses

Delphine Boel het ʼn reuse sukses behaal in die koningshuis na ʼn jarelange stryd om te bewys dat sy die dogter is van die voormalige heerser, Koning Albert II.

Die Koning van België het vir ʼn baie lang tyd ontken dat daar ʼn verbintenis is met die kunstenaar, Delphine, wat in wese sy dogter is.

In verlede week se hofgeding het sy uiteindelik daarin geslaag om die titel “Prinses van België” te kry nadat sy kon bewys dat sy die dogter van die voormalige koning, Albert II is.

Sy het vir jare verskeie regsgedinge gevoer as deel van haar stryd om as prinses erken te word, en haar regsverteenwoordigers sê die deurslag het gekom toe DNA toetse onteenseglik bewys het dat sy wel die koning se dogter is.

Sy sal nou in gevolge die beslissing van die hof, ook haar van verander na Saxe-Cobourg, die van haar vader, die voormalige koning.

Haar vreugde is ook dat haar twee kinders, Joseph en Oscar, ook koninklike titels toegeken word.