Wetenskaplike kry toekenning vir herstel van sig

Die wetenskaplike Botond Roska het n toekenning van €1 miljoen ontvang van die Duitse Körber Stigting vir sy deurbraak in navorsing oor blindheid.

Sy projek, wat gebaseer word op gene behandeling om blindes se sig te herstel, word reeds in kliniese toetse gebruik.

Die Hongaarse navorser en wetenskaplike het die toekenning in Hamburg, Duitsland ontvang vir die reuse werk wat hy in die afgelope jare gedoen het om mense se sig te herstel.

Roska is werksaam in die Switserse stad Basel het met die gene-gebaseerde terapie begin wat die mens se blinde oë sodanig kan herstel dat sig weer moontlik word.

Die wetenskaplike sê die eerste fase van sig wat bereik word, is om soos na ʼn swart en wit TV beeld te kyk, maar verdere navorsing is nodig om ook die tekortkoming van kleur te herstel.