VSA ambassadeur in Sjina tree uit

Terry Branstad, die Amerikaanse ambassadeur in Sjina, sal Beijing vroeg in Oktober verlaat wanneer hy uittree uit sy amp om terug te keer na sy vaderland.

Die 73-jarige Branstad se aftrede het aangebreek in ʼn tyd waar die verhouding tussen Sjina en die VSA die swakste is wat dit ooit was in die afgelope twee dekades.

Met die spanning tussen die twee moondhede wat nie tot ʼn ooreenkoms kon kom vir ʼn handelsakkoord nie, en die beskuldiging teen Sjina vir sy hantering van die Covid-19 virus, tesame met die VSA se beskuldiging van Sjinese pogings om sensitiewe inligting te steel, sal ʼn nuwe ambassadeur uit die VSA waarskynlik nie dadelik daarheen gestuur word nie.

Sjina het die huidige ambassadeur beskryf as ʼn “ou vriend van Beijing” terwyl ʼn nuwe ambassadeur minder gewild sal wees.

Branstad het meer as drie jaar diens gedoen in die amp as ambassadeur, en word allerweë beskou as ʼn waardige en gedissiplineerde verteenwoordiger van die Amerikaanse regering.