Verligting: Turkye verlaat Mediterreense gebied

Die Griekse regering het die jongste optrede van Turkye verwelkom toe verneem is dat die Turkse skip vertrek het uit die Mediterreense gebied waar dit op soek was na moontlike gas en olie bronne.

Turkye is deur die Griekse regering gewaarsku dat hy die Europese Unie sou versoek om sanksies teen die land in te stel as hy nie sy soektog in die Mediterreense see laat vaar nie.

Die teenwoordigheid van die Turkse skip het ernstige spanning tussen Griekeland en Turkye veroorsaak, en alhoewel die Griekse regering verskeie kere versoek het dat die skip die gebied moet verlaat weens sy skending van internasionale reg, het die Turke voortgegaan met hulle soektog.

Die Oruc Reis het Sondag teruggekeer na Turkye, en Griekeland het in reaksie daarop gesê dit sal die spanning wat veroorsaak is, aansienlik verlig nadat Turkye eers gedreig moes word van sanksies wat ingestel kan word.

Vroeër het Griekeland gedreig dat hy verplig sal word om grootskaalse aankope van wapentuig te doen as Turkye nie gehoor wil gee aan die oproep om die seegebied te verlaat nie.