Verander beleid, nie virus vlak nie!

Die beweging van Suid-Afrika van vlak twee na vlak een van die inperking sal geen wesenlike verskil vir die ekonomie inhou nie. Dit is bloot ‘n voortsetting van die regering se politieke mag spel, meen TLU SA.
“Hoe gouer die beperkings heeltemal opgehef word, en Suid-Afrikaners self die verantwoordelikheid vir hulle gesondheid neem, hoe vinniger sal die meganismes om die ekonomie weer te laat funksioneer, aan die gang kom,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.
TLU SA ondersteun die Business for Ending Lockdown-veldtog waarmee verskeie bekende ekonome, besighede en organisasies aandring dat die grendelstaat beëindig, die ramptoestand opgehef en alle regulasies in vrywillige aanbevelings omskep word.
Sou ‘n tweede vlaag van die pandemie en inperking Suid-Afrika tref, beskik die land nie oor die kapasiteit om die gevolglike ekonomiese vloedgolf en hongersnood te hanteer nie. Juis as ‘n gevolg van die volgehoue inperkingsmaatreëls.
Hoewel die land nou na vlak een ten opsigte van COVID-19 beweeg, staan die ekonomie, werkloosheid en armoede op vlak vyf en groei dit steeds in die verkeerde rigting.
Die president se versoek dat landsburgers nou skouer aan die wiel moet sit om die ekonomie weer aan die gang te kry, druis loodreg in teen die ANC se ekonomiese beleid. Dié beleid van verwarring en onsekerheid het die land reeds voor die aanvang van COVID-19 tot rommelstatus gedryf. Ekonomiese groei is die resultaat van vertroue omdat die korrekte ekonomiese prosesse gevolg word.
“TLU SA is steeds ernstig bekommerd oor die ANC wat vasklou aan prosesse soos onteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank,” sê mnr. Geldenhuys. “Daar moet nou vertroue by beleggers geskep word om die ekonomie op te bou, maar dit is onmoontlik indien daar met hierdie beleid volhard word.
“Die regering kan nou bewys dat die toekoms van die land se inwoners ‘n prioriteit is,” sê hy. “Sien om na die veiligheid van elke inwoner en doen iets daadwerklik om misdaad onder beheer te kry.
“Laat vaar die sinkende ideologieë van sosialisme en kommunisme wat nog nooit iets anders as armoede en mislukking tot gevolg gehad het nie. ‘n Ekonomiese beleid geskoei op die beginsel van privaat besitreg en die vryemark sal positiewe ekonomiese gevolge hê. Dit is nou die tyd om die algemene beleid te verander.”