Veldbrande ontwrig dele van Kalifornië

Honderde kampeerders in een van Kalifornië se reservate moes met reddings werkers se hulp uit die gebied gered word.

Die Sierra Nasionale Woud in die deelstaat beleef groot bos en veldbrande te midde van uitermatige hittegolwe wat reeds oor dae lank in die gebied hang en brandbestryders se taak bemoeilik.

Militêre helikopters het bykans ʼn 100 mense gered wat vasgekeer is deur die brande, en wat in die uiters gewilde vakansieoorde se kampe was.

Ongeveer 150 mense is ook in n ander kamp van die oord gered, en die reddingswerkers is steeds op die uitkyk vir meer mense wat moontlik vasgekeer is.

In ʼn derde reservaat is minstens 224 mense uit die gebied gered waar die kampterrein later deur die vlamme verteer is en die kampeerders se besittings ook deur die vlamme verteer is.

Nagenoeg 1,5 miljoen hektaar word deur die brande bedreig, en brandbestryders ondervind moeite om hulle werk te verrig weens die geweldige hittegolf en die hitte van reuse brande.

Geen ongevalle is Maandag aangemeld nie, maar die owerheid is versoek om meer brandbestryders beskikbaar te stel.