Uit my Kuierkombuis

Ek het in ‘n huis groot geword waar kalkoen en beestong nooit op die spyskaart was nie.  Toe ontmoet ek my wederhelfte en my aangetroude Ma, Cecilia Erasmus het my geleer om die twee vleissoorte geurig gaar te maak en keurig te bedien! Sy het sommer ‘n houer met 5kg beestong per keer gekoop.  Dit is dan dun opgesny en voorgesit by funksies en troues.   Die gaarmaak van ‘n kalkoen  sal ek later in die jaar met u deel,  maar vandag staan ons stil by die gaarmaak van beestong bedien met ‘n heerlike mosterdsous. 

Gepekelde beestong met mosterdsous

1 (gepekelde) beestong (± 1 kg)

1 wortel opgesny

1 ui afgeskil en deurgesny

1 lourierblaar

5 ml sout

Swart peper

125 ml bruin asyn

Genoeg water om die tong te bedek

Metode:

  1. Bedek die beestong met water en voeg die groente en geurmiddels daarby. 
  2. Kook vir een en ‘n halfuur, skakel af en laat die tong vir verdere twee ure in die kastrol staan.
  3. Haal die beestong daarna uit en verwyder die vel en los stukkies onder die tong.
  4. Sny die tong nou in dun skyfies met ‘n skerp mes.

Mosterdsous

20 ml mosterdpoeier

250 ml witsuiker

Knippie sout

100 ml wit asyn

3 eiers geklits

Metode:

  1. Plaas die bestanddele in ‘n dubbele kastrol  en klits terwyl dit verhit.
  2. Hou aan klits totdat die skuimerigheid verdwyn en die sous verdik.
  3. Laat effens afkoel en bedien saam met die skyfies tong.

Die orige mosterdsous kan in die yskas in ‘n lugdigte houertjie geberg en saam met toebroodjies en kouevleis of gekookte eiers genuttig word.